Meer Oor Ons Skool

Die Voorbereidingskool George is ‘n skool vir
klein kinders met groot drome.

Leer Meer Kontak Ons

Opleiding van môre
se leiers sedert 1951

Om voor te berei vir die blinkste toekoms bied Voorbereidingskool George ongeëwenaarde toewyding aan leerders en hul verskeidenheid van behoeftes, passies en drome. Verken ons webwerf om meer oor ons te wete te kom.

Missie

DIE VOORBEREIDINGSKOOL GEORGE STREEF OM:

  • op Christelike nasionale grondslag en deur beoefening van hul daaglikse lewende geloof die individuele talente van leerders en leerkragte te ontwikkel op akademiese-, kulturele-, en sportgebied
  • ‘n Gesonde inter-ouer-kind-onderwyser verhouding en gemeenskapsbetrokkenheid te verkry
  • Die aankweek van gesonde waardes en norme om hom/haar te lei op sy/haar weg na volwassenheid
  • die leerplan soos deur die Departement van Onderwys voorgeskryf te implimenteer en uit te bou.

Visie

DIT IS ONS STREWE OM:

  • Die kind te begelei na volwassenheid
  • Christelike beginsels en nasionale trots by hom/haar te kweek
  • Die leerling se volle potensiaal te verwesenlik op akademiese, fisieke en kulturele vlak
  • Om gedissiplineerd, betroubaar en onberispelik te wees in voorkoms en optrede
  • As personeel lojaliteit en kollegialiteit te bevorder
  • Professioneel op te tree soos verwag word van ‘n ware opvoedkundige
  • Ouerbetrokkenheid en welwillendheid aan te moedig
  • ‘n Skooltrots en ryke tradisie uit te bou
  • ‘n Akademiese atmosfeer te skep sodat opvoeding en onderwys vir skolier en onderwyser aangenaam mag wees.

Geskiedenis van ons skool

In 2021 het ons skool sy 70ste bestaansjaar gevier en het ‘n ryk geskiedenis as die oudste gebou in George.

Die skool is gestig op 1 Januarie 1951 met Mnr. Ferreira as die eerste skoolhoof. Die oorspronklike gebou is steeds in gebruik en huisves tans die Graad een en twee klasse. Op 6 Mei 1952 was daar 480 kinders in die skool.

Die klein saaltjie was oorspronklik die woonhuis van die Schoeman-familie. Dit is gebou in 1848 en is die oudste woonhuis in George en dus ook ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid. Die oorspronklike naam van die gebou is ook Schoemanhuis. Dit is later omskep in ‘n losieshuis. Later het die staat die grond oorgeneem en het dit die skoolraadgebou geword. Gedurende 1992 word die gebou aan die skool oorgedra en omskep in ‘n Saal- en Musiekkamers.

Die oorspronklike Schoeman-huis is nou die tuiste van twee van ons Pre-primêre klasse, twee musieklokale en ons klerebank.

Die skoollied wat op ons tuisblad pronk is geskryf deur Dalene Brits op 13 Junie 1988. Die skool het spoedig uitgebrei en van 1979 tot 1995 moes die addisionele klasse in opslaanklasse gehuisves word. In 1995 word dit met ‘n permanente struktuur vervang en kon ons Graad 3 klasse daar intrek. ‘n Groot saal is in 2002 gebou en ingewy.

In 1983 begin die skool ‘n Pre-primêre klas wat intussen gegroei het tot 7 klasse. Vandag het die skool meer as 800 leerlinge.

Skoollied

Hier aan die voet van die Outenikwa
Is daar ‘n skool om op trots te wees:
Dit is die skool waar ons reeds van kleins af
Leer om te speel en te tel en lees!

Ons leuse is ons Groei
– In liggaam en in gees –
Ons berei ons hier vir die toekoms voor
Om volledig mens te wees!

Ons Gelukbringer (Buzzbee)

In 2021 het ons skool ‘n gelukbringer bekendgestel wat die gonsende en energieke gees van die skool verteenwoordig. Dit sal gesien word by spesiale spanbou-aktiwiteite vir leerders en onderwysers, sowel as by sportbyeenkomste en op opedae.

Hoekom ‘n By?

  • bye bou hulle korwe in bome en ons embleem is ‘n boom wat groei.
  • bye het baie positiewe karaktereienskappe
    soos om hardwerkend te wees, saam te werk en produktief te wees.
  • bye is ‘n bedrygde spesie Ons wil ons leerder opvoed oor die belangrikheid van bye.
  • sonder bye sou bestuiwing nie moontlik gewees het nie en mense sou gesukkel het om te oorleef. Daarom, sonder ‘n goeie opvoekundige fondasie, sal intellektuele en persoonlike groei gebeperk word.